NG Kerk Vryheid Moedergemeente se reuseprojek Lewende Water

Die gemeente het intussen ‘n verdere R283 000 ontvang waarmee hulle boorgate gaan sink by die aftree-oord, en by die Inkanyisoskool vir gestremdes in Bhekezulu (- Red.)

kzn-vryheid

Stop ‘n mens by Vryheid se moedergemeente val die pragtige ou majestieuse kerkgebou jou onmiddellik op. Maar deesdae is dit nie net hierdie historiese baken wat uistaan nie. Dit wemel en woel daar. Langs die kerkgebou is ‘n klompie reuse watertenks opgerig met ywerige manne tussenin wat die water uittap. Binne in die kerksaal staan honderde liters water gereed. Buite die kerkgebou is ‘n verspreidingspunt waar rye mense elke dag gratis water ontvang. Wat ‘n gesig: Die kerk in aksie!

Die rede vir hierdie gesig is die ernstige watertekort in Vryheid en omgewing. Die afgelope tyd is die beskikbare water met 80% gesny. En dit is nog nie die einde nie. Die damme is leeg. Vryheid is so pas deur die Departement van Waterwese ingelig dat die water eerskomende Vrydag 19 Februarie afgesny gaan word. Al wat daar dan gaan wees is tenks wat in die dorp ontplooi gaan word.

Tydens ‘n beplanningsvergadering verlede Vrydag is op die volgende strategie besluit:

  • Die waterverspeiding vanuit die kerksaal is nou nog belangriker as ooit. Dit moet voortgaan vir die afsienbare toekoms. Persone en gemeentes wat water wil skenk en ook met die vervoer daarvan wil help kan met ds Ferdinand van Niekerk skakel by 0828972515.
  • Een van die wyses om watertoevoer meer volhoudend te kry is deur die sink wat boorgate. Persone of gemeentes wat geld hiervoor wil skenk kan met ds Gerhard Botha skakel by 0829237407.

Vir enige algemene navrae of aanbiedinge van hulp kan ds Gerhard ook gekontak word.

Laat ons vir Vryheid en sy mense in hierdie tyd bid.