Voorstelle en idees: Wenke

Baie mense wil graag ‘n bydrae maak, maar is onseker hoe om dit te doen. Dit is belangrik om die volgende in gedagte te hou:

Veevoer: Boere in droogtegebiede het voer nodig en moet dit ten duurste aankoop. Indien daar voer beskikbaar is kan dit aangery word na streke waar dit nodig is. Dit moet egter kwaliteit voer wees. Indien die voer bestaan uit voerbale wat nat gebaal is en swamme ontwikkel het kan dit gebeur dat die voer teen groot koste vervoer word, maar nutteloos is vir die ontvanger van die voer. Maak asb seker van die kwaliteit van die voer.

Water: Baie mense wil water skenk, maar vervoer is baie duur. Daarom sal dit beter wees om geld te skenk en as water aangery moet word sal dit van die naaste punt waar dit beskikbaar is aangery word.

Kospakkies: Ook hier is dit onprakties om oral kospakkies bymekaar te maak. Dit sal beter wees om eers te bepaal waar die nood is, wat die omvang daarvan is, die ontvangers goed te keur sodat die regte mense die hulp ontvang. Dit is ook beter dat kos eerder gekoop word by die naaste punt waar die nood is as om dit ten duurste te vervoer oor lang afstande. Geldelike steun bly dus die mees effektiefste vorm van bydrae.

Samewerking en vennootskappe: Dit is essensieël dat ons saamwerk en die mense die naaste aan die nood in staat stel om effektief noodleniging te doen. Die NG kerk beskik oor ‘n baie wye netwerk van gemeentes en profesionele maatskaplike dienste om oraloor ons land hierdie noodleniging werk te doen.

Hier volg die goeie raad van ‘n boervrou wat self hulp nodig het in ‘n epos:

In opvolging van ons telefoniese gesprek:

Vanuit die oogpunt van die ontvanger van droogtehulp:

  1. Enige hulp word baie waardeer. Ek dink ons boere is geestesmoeg. Behalwe vir voortdurende verguising oor alles en wat staan almal voor die groot probleem van oorlewing in en van die droogte.
  2. Lusern, koringstrooi en gebaalde gras is tans feitlik die enigste vorm van voer en ruvoer wat beskikbaar is. Mieliereste is onbekombaar. Verpilde voere en protein- en mineraalkonsentrate vir byvoeging is ook baie welkom.
  3. Gebaalde gras lewer egter probleme op wanneer dit nat gebaal word. Dit muf en is dan onbruikbaar en dodelik vir beeste. Sommige boere kuil die gras deur die suurstof uit te pers en dan die ronde baal lugdig met plastiek toe te maak. Die plastiek skeur skynbaar met hantering dan kom daar lug in wat ook die kuilproses belemmer en n gemufte produk laat.
  4. Al die boere het nie meganiese toerusting om groot bale en big packs af te laai nie. Kleiner bale hanteer net makliker.
  5. Al reën dit nou hoe baie gaan die veeboere nog vir n paar maande voer moet aanbring. Die veld is dor en kaal en daar kan nie in die kort najaarsomer dramatiese groei van veldbedekking wees nie.
  6. Dit lyk asof die droogtehulporganisasies van boereverenigings gebruik maak om voer toe te ken. Ander werk deur plaaslike koöperasies omdat almal nie lid is van n boerevereniging nie.

Sunita Keyser
Hertzogville