NG Kerk Ladybrand-Noord, Paarl, Riversdal help op Odendaalsrus

“Ons beker loop oor…” – gesin van Odendaalsrus getuig

So skryf Willie, Anlie, Leroux en Wian de Wet van Wesselsbron/Odendaalsrus:

Ons gesin kan maar net in diepe verwondering, alle eer aan ons Hemelse Pa gee, wat ‘n pad van bemoeienis met ons stap!! ‘n God wat nooit sluimer of slaap nie en Sy belofte gestand doen, soos in Ps 127:2 “…Vir die wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap…”

In 2004 het ons van Hennenman na Wesselsbron verhuis waar ons vir Pierre van Zyl begin werk het. Weer word ons geseën met werkgewers wat God dien. Ons kon ons Bonsmara kudde uitbrei en het Pierre vier jaar gelede, vir ons geld voorgeskiet om veegrond by Odendaalsrus te koop.

Baie uitdagings het voorgelê: aanvanklike kostes tov omheining, watervoorsiening, veeverliese agv BM, die droogte in 2015 en die huidige droogte (Vanaf Januarie 2016 tot op hede 146mm reën). Verkoop van die veegrond of die kudde was nie ‘n haalbare opsie nie, aangesien ons nog te veel skuld op die plaas.

Kopje Alleen te Odendaalsrus disktrik – Noord-Vrystaat einde Maart 2016
Kopje Alleen te Odendaalsrus disktrik – Noord-Vrystaat einde Maart 2016

Na ‘n Facebook plasing waarin ons bely dat die veegrond asook ons kudde, alles wat ons besit, aan God behoort en dat ons met ‘n verwagting uitsien na uitkoms… werk God op ‘n wonderbaarlike wyse in ‘n hele paar harte van weldoeners.

  • Ons familie in Ceadarville (Natal), Henk en Ester Botha, bied aan dat die helfte van ons kudde na hul (680km) geskuif word totdat ons weer weiding het.
  • ‘n Vriend van Harrismith bied aan dat ‘n deel van ons kudde by hom oorwinter (waarvan ons werkgewer die vervoerkostes dra). ‘n Kwart van ons kudde het egter nie ‘n ander heenkome nie en sal gevoer moet word.
  • ‘n Laerskoolvriend, Morné Engelbrecht en sy vrou, van Ermelo het 80 oulandsgrasbale aan ons geskenk… die vervoerkoste daarvan was buite ons vermoë en het ons weereens die Here daarvoor vertrou.
  • Ds Chris Lotter van Waverley Pretoria se suster wat in Kokstad woon en huisvriende van ons ouers is, het ons aangeraai om hom te kontak. Hy het ons hulpaansoek aan die Vrystaat se NG sinode deurgegee.
  • Ds Gideon Lamprecht van die NG Gemeente Ladybrand-Noord het ons geskakel met die wonderlike nuus dat die totale vervoerkoste betaal gaan word aan die kontrakteur wat die meeste bale kan vervoer.
  • NG Gemeentes in Paarl en Riversdal het die kostes gedra…

Getuienis pic 2

Saterdag 23 April is 44 bale op ons veegrond afgelaai.

Getuienis pic 3

Getuienis pic 4
Willie de Wet

Getuienis pic 5

Ons beker loop oor… soveel onverdiende goedheid en guns is aan ons bewys, God werk op wonderbaarlike wyses. Uit die diepte van ons harte BAIE, BAIE DANKIE!!! Eerstens aan ons Hemelse Pa wat voorsien, maar ook aan elkeen van julle wat jul harte en beursies oopgemaak het! Mag Ps 127:2 ook waar wees in jul elkeen se lewe. Ons God sluimer of slaap nooit, Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat hom liefhet en dien.

Met dankbare harte

Willie, Anlie, Leroux en Wian de Wet

GEtuienis pic 6
Wian, Leroux, Anlie en Willie de Wet Wesselsbron/Odendaalsrus