NG Kerk steek hand uit en gee droogtehulp

Leon Venter
Ds. Leon Venter

Ds. Leon Venter, Julie 2016 – Die ergste droogte in menseheugenis, in 100 jaar. Koerantopskrifte, video’s en fotobeelde van die droogte het mense oral in die land aan die hart gegryp. Boere, plattelanders, rykes, armes, self die stedelinge wat nooit oor water dink en dit onnadenkend as alledaags en vanselfsprekend veronderstel, is geraak. Die droogte wat Suid Afrika in sy El Nino wurggreep het, het hierdie keer die hele land geraak.

Wat gebeur met mens as jy die kraan oopmaak en daar kom geen water uit nie? Wat gebeur met ‘n boer wat daagliks sien hoe sy diere verhonger en sterf, hoe die grond en weiding agteruitgaan? Wat gebeur met ‘n mens as jy biduur hou saam met ander gelowiges en elke dag opstaan en opkyk na die lug? Hoe versoen jy jou gebede en verwagting van God as jy daarmee saam ook twee, drie keer per dag kyk na die weervoorspelling op die nuus en die internet, en elke keer kom die voorspelling, selfs 10 dae vooruit, dat geen reen op pad is nie, net versengende hitte.

Wat doen dit aan jou as dit reen, maar net langs jou plaas op die buurman se grond, jaloersreen soos ons boere dit noem? Wat doen jy met die teleurgestelde verwagting na jy die hele dag die wolke biddend en verlangend dopgehou het?

Failing crops on Kenyan farm

In die droogte het NG kerk lidmate dwars oor die land in beweeg gekom. Mense het oraloor dinge begin doen om betrokke te raak. ‘n Boer van Senekal, lidmaat van die NG kerk wat die Sondag toe die dorp se krane onaangekondig droog is, neem na die erediens sy trekker, maak die watertenk vol met sy plaas se boorgatwater en ry dorp toe sodat die hele dorp kan water kry.

Stedelinge, mans, vrouens en kinders begin waterbottels volmaak en begin organiseer om water te kry by die dorpe en plekke waar die krane eenvoudig droog geraak het. Mense begin spontaan in groepe organiseer, maak telefoonoproepe oor en weer, besighede begin kontant bedrae oorbetaal, vervoermaatskappye en krudieniersgroepe bied hul hulp en logistieke vermoë van vervoer gratis aan. NG gemeentes raak betrokke stel hul eiendomme, en organisasie vermoë tot beskikking van die hele gemeenskap. Dominees begin leiersrolle in hul gemeenskap speel en begin organiseer en saamwerk met die munisipaliteite en besighede om ‘n daadwerklike verskil te maak in hul gemeenskap oor die nypende watertekort.

In Desember 2015 het die NG gemeentes Hartenbos en die Riversdal Wes onafhanklik van mekaar ‘n besef begin ontwikkel van die omvang en reikwydte en impak van die droogte. Spontaan begin hierdie twee gemeentes organiseer. Riversdal Wes se boere het voer om te gee en het geld nodig om vervoer te betaal. Die fondse begin invloei. Dit is ‘n herhaling van die brood en vissies. Uiteindelik is daar nie meer voer in die distrik wat gestuur kan word nie en betaal die gemeente onder leiding van ds. Deon Beyers in Mei maand hul laaste R25 000 vervoer geld oor aan Kroonstad om boorgate te help betaal by ‘n aftree-oord in die droogte- geteisterde Vrystaatse dorp.

In Hartenbos gemeente vind daar op Kersdag ‘n insameling plaas vir die knellende droogte met die doel om dit vir Agri-SA se droogtefonds te gee. R52 400 word op een oggend ingesamel. Ds. Dawid de Wet, voorsitter van die Diensgroep Armoede en Sorg versoek die Weskaap Sinode om ‘n bydrae uit die Sinodale Rampfonds te maak. Die Moderatuur van die Weskaap Sinode bespreek die versoek en besluit om ‘n NG Droogtehulp fonds te begin wat sal saamwerk met Agri SA. Die Weskaap Sinode dra R200 000 by saam met die gemeente Hartenbos se R52 400 en die fonds word gestig met R252 400, saam met die vervoerfonds van Riversdal Wes wat hulle self bedryf. ‘n Mikpunt van R2 miljoen word gestel. Die fonds word bekendgestel op RSG se Sondagjoernaal deur die moderator Nelis Janse van Rensburg die daaropvolgende Sondag. Binne drie dae word ‘n webtuiste www.ngdroogtehulp.co.za geregistreer en ontwikkel deur die Diensgroep Armoede en Sorg sodat die webtuiste gereed is die Sondagoggend toe die bekendstelling uitgesaai word. Daar word kontak gemaak met die Algemene sekretaris van die Algemene Sinode,dr. Gustav Claassen wat onmiddellik positief reageer en verhoudinge begin ontwikkel met Agri-SA om die NG kerk se ondersteuning en hulp aan te bied. Die nuus van die stigting van die NGDroogtefonds word per epos aan gemeentes en dominees bekendgestel in die Weskaap. Dr. Claassen stuur op sy beurt ‘n epos aan alle dominees en Kerkrade in die land. ‘n Spesiale NG Droogtehulp rekening word geskep en die finansiële bestuurder van die Weskaap Sinode mev. Annerina Viljoen bestuur die inkomende fondse. Binne 40 dae word die twee miljoen rand kerf bereik en ‘n nuwe mikpunt van R3 miljoen gemaak.

Sinodale Droogtehulp verteenwoordigers word aangewys in die verskillende sinodes en eposse en telefoonoproepe tussen die hierdie verteenwoordigers vind plaas. Dit is ‘n Algemene Sinodale projek wat geadministreer word vanuit die Weskaap Sinodale kantoor. By die Water konferensie van die Vrystaat Sinode in April 2016 ontmoet die sinodale koordineerders vir die eerste keer mekaar.

Sedert Januarie 2016 tot Mei 2016 groei die fonds tot R3 564 000.

NG lidmate, individue, besighede, sinodes en gemeentes dra by om die fonds te laat groei.

Versoeke om droogtehulp begin aanvanklik traag. Dominees is onseker of dit regtig waar is dat hulle kan aansoek doen vir fondse om te spandeer in hul gemeenskap om droogtehulp te verleen.

Die hantering van die fondse word gedoen volgens die riglyn dat ons gemeentes in staat wil stel om hul gemeenskap te dien. NG Dominees en kerkrade moet dus aansoek doen. Geen fondse word aan buite instansies of individue betaal nie. Die aansoeke en bedrae word oorweeg en aan die NG gemeentes oorbetaal vir besteding omdat dit ons help om ‘n ouditsproor op die aanwending van die fondse te behou. Tot op hede is vanuit die NG Droogtehulp fonds R 1,760,019.34 uitbetaal aan 23 gemeentes vir hulp aan boere met veevoer, die sink van boorgate op gemeentes, aftree oorde en ‘n kinderhuis se grond, die oprigting van watertenks en pompe om gemeenskappe deur die droogte te help.

Wat het ons in die proses geleer?

Die NG kerk is 360 jaar ou, groot en uitgestrek, naby alle gemeenskappe in Suid Afrika. Die kerk het reikwydte oor die hele land, ons mense se harte en hande is oop, hul vermoë om te organiseer en hulp te verleen is waarskynlik die beste georganiseerd in die land. Ons het die vermoë om as Sinodes saam te werk, ons mense kan gemobiliseer raak as dit oor die regte sake gaan.

Die vraag is: Hoe neem ons die momentum van die lesse wat ons geleer het uit die saamwerk en welwillendheid verder? Hoe ontwikkel ons ‘n gedeelde droom en samehangende projekte vir ons uitdagende land? Hoe kom ons in pas met met God wat reeds in gemeenskappe werksaam en teenwoordig is? Hoe kom ons verby ons verdelende gesprekke en besluite in die NG kerk sodat ons eendragtig saam kan fokus op die uitdagings wat ons moet aanspreek in Suid Afrika? Hoe breek ons deur ‘n kultuur van spanning en konflik, van vrees en onsekerheid, van wantroue en verdediging? Hoe skep ons ‘n samesnoerende identiteit in die NG kerk en hoe ontwikkel ons projekte wat hierdie NG kerk identiteit bevestig en verder neem? Hoe neem ons dit verby teologiese begrippe en sosiale konsepte wat genuanseerd kommunikeer in akademiese gesprekke, maar kragteloos is in ons sosiale konteks waar ons mense van vlees en bloed en emosies en vrees en vooroordele is?

Die krisis van die droogte het die ware NG kerk kerk laat opdaag. Hoe benut ons as leiers die landswye beweging van sorg en omgee in die NG kerk om betrokke te wees en ‘n verskil te maak? Hoe identifiseer ons verdere saambindende sosiale projekte wat tot voordeel van alle mense in Suid Afrika is? Hoe laat ons die boodskap uitkom van die welwillendheid en potensiaal van die NG kerk vir alle mense in Suid Afrika?

Ons kan nie tevrede wees om teologiese begrippe soos geregtigheid, gelykheid en menswaardigheid te gebruik in toesprake en skrywes wat nie terselfdertyd omgesit word in konkrete projekte tot voordeel van die gemeenskappe waarin NG gemeentes is nie. Ons moet leer om kollektief ons hand in konkrete projekte te plaas wat hierdie begrippe lyf gee, wat dit laat gebeur, soos mense kon ondervind met water wat hulle kon gaan haal in NG kerksale en op NG kerkgronde en dit kon ontvang uit die watertenks van gelowige NG lidmate wat hul trekkers aanskakel, en watertenks aanry en stadig deur die armste woonbuurte ry en stop sodat vroue en kinders water kan kry vir drink, kosmaak en lewe. Dit word alreeds op groot skaal gedoen deur ons maatskaplike dienste in al die sinodale gebiede. Ons moet egter steeds leer om dit beter te doen, beter te kommunikeer, verbeeldingryk te wees.

Water is lewe. Water is die simbool van God se liefde en genade en aanvaardiging. Hierdie droogte het ons kom herinner aan ons broosheid en blootgesteldheid, ons diep afhanklikheid, ons onderlinge verbondenheid. Mag die geestelike en lewegewende water wat uit die fondasie van die NG kerk vloei lewe bring op al die plekke waar dit kom. Mag die stroom dieper word en vrug lewer.