NG Kerk Melmoth — Goeie water op 68 meter

Een aand vroeg in November 2015 maak ek my huiskraan in Melmoth oop en daar kom geen water uit. Daar is al ‘n ruk kort-kort waterbeperkings of die munisipaliteit se water is vir ‘n ruk af, so ek vermoed dit is wat weer gebeur het. Almal weet dit is droog en is diep bekommerd. Die area lyk droog en die diere en plantegroei kry swaar. Die volgende oggend wil ek my gesig was, maar steeds is daar geen water nie. So gaan dit aan vir weke. Skielik koop almal die winkels se water op. Almal kry 20 liter kanne en gaan haal water by persone wat boorgate het op plase. Ek leer om in ‘n skotteltjie water te bad en dit ook te gebruik vir die toilet en om ‘n bietjie water te kook. Desember-vakansie kon ek nie gou genoeg by my ouers in die Kaap gaan kuier nie, wat ek het geweet daar is water!

Baie mense in die dorp kry Jo-Jo tenks en ‘n pomp en vra dan vir boere of vir kontrakteurs om die tenk te kom volmaak met water, maar die water moet spaarsamig gebruik word want dit hou nie lank nie. Baie kry saam met hul tenk ook ‘n drukpomp. Diegene met boorgate is maar skrikkerig dat dit kan opdroog en hulle wil nie te veel water uitdeel nie. Die meeste mense in hierdie omgewing kan egter nie ‘n Jo-Jo tenk of ‘n pomp bekostig nie. Die munisipaliteit plaas op sekere plekke tenks en ry ook water aan, maar die water raak vinnig op en jy sien rye en rye mense met kanne en emmers staan en wag om water te kry.

Soms lyk dit of mense baklei om water in die hande te kry. Op facebook en sosiale media begin instansies reël om water bymekaar te maak en te vervoer na droogtegebiede. Ons in Melmoth is ook gelukkig om water te kry, selfs vragmotors vol uit Gauteng en vanaf Durban. Kerke en besighede stuur water vir drink- en wasgebruik. Ons begin van die water in ons kerksaal bêre en nooi die gemeente en gemeenskap om te kom water haal. Die mense is baie dankbaar. Van ons eie gemeentekinders gaan deel ook die water in die dorp uit. Dis wonderlik om die sien hoe die gesigte ophelder as hul ‘n 5 liter bottel water kry om huistoe te vat. Ons is baie dankbaar vir elke besigheid, skool of kerk wat vir ons water gestuur het en steeds stuur.

Met die NG Kerk se droogtehulpfonds wat tot stand gekom het, is ons gevra of ons nie wil aansoek doen vir ‘n boorgat op ons kerkgronde nie. Met ‘n boorgat kan ons water uitdeel aan ons gemeenskap, maar dit is baie duur en ons is ‘n klein gemeente met min fondse. Ons besluit toe om wel aansoek te doen by die Droogtehulpfonds. Kwotasies is gekry en die aansoek is ingegee en met groot vreugde het ons die fondse gekry.

Op 5 Mei is die boorgat gesink en op 68 meter kry ons water. Verligting en vreugde! Daar kan 2200 liter water per uur gepomp word. Ons kerkraad beplan nou om van die boorgatwater na ‘n tenk te pomp wat in die straat staan waar enige persoon in die gemeenskap water kan kom haal. Ons gaan vir die langs ons ook water gee en ons is dankbaar om ook nou weer water by die kerkgebou en saal te hê, want die laaste paar maande het ons water aangery vir die kombuis en badkamers.

Baie dankie aan elkeen wat bygedra het tot die Droogtehulpfonds en vir die persone wat die fonds bestuur en ons aansoek goedgekeur het!

Aangeheg is foto’s van die water wat uit die grond opgespuit het toe die boorgat gesink is.

Ds Karlien van Wyk
NG Kerk Melmoth

 

Nog nooit was modder so mooi nie.
Nog nooit was modder so mooi nie.