NG Kerk Hayfields gee Droogtehulp-fonds in KZN momentum

So skryf ds Gerhard Botha, streekkoördineerder vir droogtehulp in KZN:

Op Sondag 7 Februarie klim ds Philip Meyer na sy preek uit Luk 4: 14-30, van die preekstoel af en bely dat hy baie benoud en onseker voel oor wat hy nou wil doen, maar dat hy desnieteenstaande gedring voel daartoe.

‘n Mens kon ‘n speld hoor val van en die onsekerheid oor wat kom was tasbaar. Na ‘n paar oomblikke, kyk hy op en vra: “Broers en Susters, wanneer en hoe gaan ons as Hayfields-gemeente prakties begin raak en ons geloof begin lééf? Die Algemene Sinode het ‘n Droogtehulp-fonds gestig, en hier in KZN gaan ons mense ook gebuk onder die knellende droogte. Op Vryheid is daar vir baie geen water meer nie. Orals rondom ons is mense in nood.”

Wat volgende gebeur het, kan nie met woorde alleen oorgedra word nie …

Byna onmiddellik en absoluut spontaan is aanbiedinge van water en die moontlike vervoer daarvan oor die vloer heen gedeel. Persone het sommer daar en dan met mekaar begin koördineer. Iemand wat ‘n besigheid besit waar gebottelde water verkoop word, vertel toe dat hy reeds water gestuur het, maar dat hy graag nog wil stuur. Iemand anders bied sy hande aan om te help waar nodig en nog iemand bied sy tyd aan.

Wow! Empatie, deernis, liefde, bereidwilligheid. Die hele gebou was gevul hiermee … en dit was aanvoelbaar.

‘n Voorstel dat lidmate die volgende Sondag met ‘n spesiale gawe — hetsy water, kontant, kos of klere — moet kerk toe kom, word heelhartig aanvaar en ondersteun met luide handeklap.

Van die kerkraad se kant af kom die aanbod dat vir elke sent wat die lidmate die volgende Sondag bring, die kerkraad nog ‘n sent sal bydrae.

En so gebeur dit toe! Die kollektesakkies bult die daarvopvolgende Sondag met R21 500 in harde kontant. Die kerkraad kom hulle belofte ook na. R43 000! Dis baie geld. Sommer net so. Wat geen geld egter kan koop nie, was en is die gevoel van warmte, liefde en dankbaarheid.